Alhoewel baie skole en kursusse die sigwoordeskat-metode gebruik waar kinders woorde leer lees op grond van heelwoord-herkenning, staan juffrou Gerna by die klank-metode. Sy glo dat kinders wat kan klank nuwe woorde makliker kan aanleer, groter woorde kan baasraak en in die toekoms beter vaar met woordherkenning en algehele lees. Haar metode is tradisioneel en die sukses spreek vanself.
Die klassies word aangebied deur middel van video’s wat in julle eie tyd gekyk kan word. Daar is 22 video’s, waarvan die eerste een ‘n baie belangrike inleidende een, en die laaste ‘n ewe noodsaaklike afsluiting is vir ouers. Die ander 20 video’s is die nuwe klankies – ongeveer 15-25 minute lank, afhangende van die klankie wat aangeleer word. Daar is aflaaibare dokumente wat gebruik moet word vir oefening en inskerping – ouers word aangemoedig om hierdie getrou te gebruik.
Die grootste sukses word verkry indien kinders slegs twee video’s per week kyk en hulle die inoefening en inskerping die hele week lank doen. Maats wat die klankies maklik baasraak begin dikwels om die klassies af te jaag en meer as twee video’s per week te kyk. Eers veel later vind die ouers dan dat die fondasie nie werklik gelê was nie. Soms laat ouers ook na om die klankies elke week aan te leer en slaan later weke oor vanweë tyd in hulle persoonlike lewe wat min is. Indien kinders die klassies te lank uit mekaar uit doen, sal hulle ook nie sukses behaal nie omdat hulle klankies vergeet en van voor af moet leer. Hierdie kursus behoort beskou en hanteer te word soos enige ander aktwiteit waarvoor kinders ingeskryf is – spesifieke tye en dae daarvoor uitgesit. Die aanbevelings en riglyne in die eerste video kom uit jare se ondervinding.
Die kursus beloop R850 vir al die video’s en dokumente (leeskaarte en oefenbladsye) en is in geheel beskikbaar vir 3 maande vanaf aankope – genoeg tyd om die kursus deeglik deur te werk.
Die kursus word aanbeveel vir kinders in graad R tot graad 1. Maatjies wat jonger is as hierdie ouerdomme beleef dikwels moedeloosheid omdat hulle nie die klankies suksesvol kan aanleer nie – hulle is bloot net te jonk en en soms ook nog nie opgewonde oor die gedagte aan lees nie. Die verlede het bewys dat ouers wat hulle kinders te vroeg druk om te lees later ‘n kind het wat nie wíl lees nie. Neem asseblief jou kind se fisiologiese ouderdom en emosionele gereedheid in ag.
